Skinny dip…kleilat gooi…sinkbad ry…

Wel tegnies is dit sinkbad vaar….hehehe! So na die lekker reën loop die riviere weer sterk en kiepie is lus om die groot sinkbad wat mos altyd vir perskes en appelkose pluk en met makietie vol eish en drank gehou word en vir wat nog als gebruik word weer as boot op die rivier te lanseer…projekteer…balanseer… LOL!  Ek is nie so seker of ek nog in die ding gaan pas soos laerskool tyd nie maar heng dit lyk steeds na fun! En tegnies is dit nie ‘n rivier hier op die plaas nie, dis so iets tussen ‘n mamoerse stroom water wat tussen die bome deur beur en ‘n moerse walvis wat burp! Daar is al so vloedwater sloot…maar wanneer daar nie meer vloedwater vanaf alle rigtings kom nie dan groei die sloot vol bome – en uhm die bome raak nou al taamlik breed om die lyf so jy moet jou mik ken anners ry jy stamp karretjies en dan sink jy netnou met die sinkbad!

 

En dan ou matta, dan kom jy al hoe nader aan die groot gronddam! Het ek genoem dat jy moerse voorraad klei en ‘n lekker kweper lat ook in jou sinkbad moet saamry? Want sodra die klomp modderbesmeerde fietas op die damwal jou bespeur dan bars konsternasie om jou arme sinkbad los! Heng my ou daars nie tyd vir roeispane en om die bome vaar nie – jy lek jou lat se punt nat en moer daai modderbolle terug asof jou lewe daarvan afhang want hy doen! Hoe de donner moet jy voor jou kyk as daar kleite teen 500 m/s jou blaaie en ore tref en jy nie kan uitmaak of die ding voor jou ‘n boom of ‘n seemonster is nie! En dan kry jy die stroomversnelling waar die water in die dam in loop en as jy daar nie jou sit ken nie tiep daai sinkbad sumier holderstebolder en jy moet jou sluk ken of jy skyt vir 2dae daarna net modderwater! Dan neem die klomp op die damwal advantage en dit voel soos atoombomme wat om jou ontplof in die water! Jy kan nie eers dink om te soek vir jou lat en modderbolle nie, jy wil net daar uit! En die donners geniet die gemartel hoor! Tot jy teen die wal uit is en op droë grond is en jou wonde lek, en die honde probeer weghou wat ook wil help lek! Dan ou matta sal dit die volgende bang-gat se beurt wees! Oh revenge is sweet…so sweet!

 

En daar trek die volgende slagoffer met die sinkbad oor die kop en half oor die rug, kaalvoet deur die mielieland en deur die lusernland oppad na die bokant van die plaas waar die stormwater sloot beginne…en heelaas…die hele riekmerol weer van voor af en weet jy, elke keer sal ons dit oor en oor doen want dit is seer maar flippen pret!

 

En dan, dan na die voormiddag ‘waterlemoenne’ wat tjop tjop gekiedenis gemaak word en taai gesigte weer in die modderwater afgewas word, en na die agtermiddag braai van hoofsaaklik tjoppies maar kierankies ook….dan kom die maan mos uit en dan ou matta sit niemand meer langs die kampvuurtjie nie! Dan knetter die houte vir hulself want sodra dit net donker genoeg is lat mens nie meer die anner ou se love handles kan sien nie, dan waai die klere en dan is dit SKINNY DIP tyd! Heehaaa! Nee man wat dink jy – dis nie karvoevel tyd nie! Ons skinny dip! Soos in bly tot met die ken onner die water en beweeg met grasie voort sodat iemand nie dalk naby jou kom nie…ek meen verby beweeg nie…ek meen …ag whatever!

 

En dan geliefdes, nou het jy lekker gegiggel in die maanlig en jou lyfie wys die tekens van koue water…dan beginne die klomp redekawel oor wie klim eerste uit! Wat ‘n debat van epidermiese proporsies! Raaito – so die grootste windgat word ‘demokraties’ genomineer as die kandidaat wat op outokratiese besluitneming deur die demokrate eerste sal uitklim en vir almal handoeke gaan loop haal! En met die dat jy daar in die verste hoek van die dam net die wit boudjies sien soos die knaap gly gly teen die wal uit…is jy maar te bly dat jy net die boude sien en die geluide hoor want ruik die wil jy nie glo vir my! Reg, so almal wag gedwee vir die siel om weer terug te arriveer, en na 15 minute raak dit mos nou ‘n al te lange wag! Met ‘n skok besef die hele boksemdaais, hul is gekierang! Die windgat wetter het sowaar net sy klere aangetrek, en toe huistoe gesnol met die hele bonnel klere! So ‘n flippen piesang moet slae kry! Maar wie gaan nou eerste uitklim? Hehe raait die dames meen hul moet eerste geleentheid gegun word aangesien hul net voorlangs wil toe hou…en hul sal sommer ook voor stap dan kan die menere maar agter stap, aangesien mans mos nie voor sal kan stap en gladnie omloer nie! Dus vergaap die manne hul weer aan die glibberige storie van die dames wat teen die verste wal uit gly gly en koes koes eers paar takkies pluk, en ‘n koers inslaan terug plaashuis toe! Met wraak gedagtes ver voor die duwweltjies uit tussen die mielierye deur! En toe die girls hoor die manne is besig om vinnig nader te beweeg laat spaander hulle al drillend en gillend die donkerte in!

Maar raai, dinge wat goeie bedekking bied is die sinkbad, die braai rooster, groot stukke waatlemoen skil en ‘n goeie voorraad Seringboom takke…wonner of die manne die blink-blaar-wag-‘n-bietjie takke benut het wat die girls so uit liefde daar langs die vuurtjie gelaat het…

 

Bravo 2 oor en uit!

007 check jou weer annerdag 😉