Sangers sing, is nie draers van morele fakkellig nie
2009-08-25 deur Anna-Retha Bouwer in Beeld briewe.
Die onlangse debat – as ’n mens dit so kan noem – in Beeld se briewekolom laat my nou ook na my pen gryp, want die hemel weet, as dit nie my pen is nie, gaan dit drank wees.
Die onderwerp van bespreking het begin met ’n ene André van Centurion wat op 13 Augustus eintlik heel onskuldig gevra het of Kurt Darren werklik die land se beste sanger is. Hy het Darren se sangstem en sy lirieke gekritiseer.
Annemi du Plessis van Prieska was in Beeld van 17 Augustus gou om op die bus spring: “Nee, miskien is Kurt nie ons beste sangstem nie, maar hy’s ver beter as baie sangers wat deesdae CD’s maak.” Sy sê dit gaan vir haar oor meer en prys hom omdat hy “sy pad mooi loop”. Sy noem hom ’n rolmodel oor sy nederigheid en “keuses in die lewe”.
Elize Wiehman van Bloedrivier skryf op dieselfde dag: “As Kurt dan so sleg sing, hoekom verkoop hy soveel CD’s? Hy sing nie net goed nie, hy het ook ’n baie mooi persoonlikheid en boonop ’n baie mooi verloofde”.
Kurt en andere van Gezina, Pretoria skryf: “Steve het ook so begin. Wonder wanneer gaan Kurt se geraamtekas oopgemaak word?”
En vinnig kan ek sien waarheen hierdie debat gaan. Binnekort gaan Darren se morele gedrag teen dié van ander kunstenaars opgeweeg word en as hy leliewit en kraakvars bevind word, daarvoor geloof word. En André se oorspronklike vraag, naamlik of hy die land se beste sangstem is, sal verdoof in ’n koor van morele uitsprake.
Toe Michael Jackson se dood verlede maand op Beeld se webtuiste aangekondig is, was daar binne ’n paar uur ’n soortgelyke scenario. Daar is lekker gekry oor hoe swaar Jackson in die hiernamaals vir sy dade op aarde sal kry en mense het hom met Hitler vergelyk. Hy is veral gekasty oor die beweerde kindermolestering – en die feit dat ’n hof hom daarvoor onskuldig bevind het, het klaarblyklik nie saak gemaak nie.
Nog minder het dit ’n verskil gemaak dat hy rekords met sy CD-verkope laat spat het, elke konsert in ’n absolute skouspel omtower het en kon beweeg het soos min ander.
Dit is duidelik dat Suid-Afrikaners ’n onvermoë het om ’n sanger se talent en sukses van sy persoonlike lewe te skei.
Daar is buitendien ’n onversadigbare honger om in ieder geval álles oor bekendes se persoonlike lewe te weet. Die bestaan van die skinderjoernalis Yolanda Barnard se onlangse boek, Die ponies galop, wat van die begin tot einde een lang skindersessie oor bekendes se persoonlike lewe is, is ’n sprekende voorbeeld daarvan. En elke keer dat nóg ’n vrou erken sy het al ’n ronde onder die lakens van Steve Hofmeyr deurgemaak, is dit voorbladnuus op ’n Sondag. En ’n hele land snak geskok na hul asem op pad terug van die kerk.
My vraag is: Wat maak dit saak? Het bekendes ooit voorgegee om draers van ’n morele of godsdienstige fakkellig te wees? Het hul saam met hul platekontrak ‘n memo geteken wat sê: Ek sal nie ook doen wat die res van die wereld reeds vanaf die bybel se tyd doen nie…?
Die Amerikaanse aktrise Angelina Jolie is in die Daily Telegraph van 24 Desember 2007 aangehaal waar sy sê dat daar vir haar nie ’n God hoef te wees om in te glo nie. Ek sidder om te dink hoe sy daarvoor gekasty sou word as sy Suid-Afrikaans was, al haar wyd gepubliseerde humanitêre dade ten spyt.
’n Mens hoef nie lank te soek na nog voorbeelde van internasionale sterre wat dalk ’n donker kolletjie op hul Sondagskoolverslae sou hê nie. Kris Kristofferson, wie se musiek einste Steve Hofmeyr op sy jongste CD sing, was byvoorbeeld drie keer getroud, het agt kinders en sy liefde vir ’n sopie is algemeen bekend.
Vir Suid-Afrikaanse musiek om te gedy, moet daar meer mense soos André van Centurion wees – mense wat krities na musiek luister en vrae vra ten opsigte van talent en stemgehalte en lirieke en koud staan teenoor die skoonheid van kunstenaars se verloofdes of hul keuses in die lewe.

My opinie:
Want sien, wanneer is iemand gladnie ‘n rolmodel nie, of net so bietjie nie perfek nie, of totaal en al perfek? Onderskei ons nou weer hier tussen groot en klein sonde of hoe mooi die media dit kan ontbloot? Is JY die luisteraar en een wat oordeel dalk perfek? En moenie vir my sê lat elkeen van julle wat hier lees virgins is of gladnie seks voor jou huwelik gehad het nie…en onthou…elkeen se maatstaf vir waardes in die samelewing verskil…ek dink ons moet bietjie gesels oor die kerke se manier van brainwash dmv seks ‘opvoeding’…want hul het geweet seks is die enigste manier om die mense te beheer…
Filed under: Daaglikse neuron senapse