Wil graag die volgende met jul deel uit die kleiner hoekies van BEELD! LOL! Net jammer daars nie kiekies by nie – sou graag my gat af wou lag!
My loodgieter gebruik joghurt-bakkies
May 12 2009 11:45:43:737AM - (SA)
Annalien Burger, Vanderbijlpark
Noudat ek terugkyk, onthou ek dat hy van die begin af gesluip het. So ‘n skaduweetjie in die hoek van my oog. Maar ek was te opgewonde oor die nuwe huis en die teëls en die baddens en die krane en gordyne en meubels. Ek het nie dadelik my gedagte dat hy ‘n sluiper is, verder uitgepluis nie. Later het ek hom egter Sluiper-ogies gedoop, want hy het ook nie lekker oogkontak gemaak nie.
En toe – eers was dit net ‘n effense gedrup op die plafon. Ek het Mnr. Sluiper-ogies gebel, hy het sy werkers gestuur en die gedrup was weg – vir ‘n week, toe drup dit op ‘n ander plek. Weer gebel, weer mense gestuur, weer tevrede. Met die derde gedrup op die plafon (op ‘n ander plek) besef ek ek het ‘n probleem in my nuwe huis. ‘n Ander loodgieter gebel en toe hy met behulp van die leer sy kop by die mangat insteek, fluit hy saggies deur sy tande. “Mevrou, kom kyk.” Maar hy besef toe dat ek nooit so hoog sal kan kom nie, toe beskryf hy maar vir my wat hy sien: joghurtbakkies oral op die plafon al onder die laste van die pype.
Dis toe dat ek met wrewel in my hart vir hom die naam Sluiper-ogies-bakkies gee. Tot die mufkol agter my boekrak uitslaan as gevolg van ‘n pyp in die muur wat nie behoorlik geheg is nie, toe word hy Mnr. Sluiper-ogies-bakkies-mufkol. Twee weke later word hy Sluiper-ogies-bakkies-mufkol-T-stuk, as gevolg van ‘n verbinding waar hy ‘n koper T-stuk gebruik het in plaas van ‘n elmbooghegstuk. Hy het net die koper T-stuk se een punt omgebuig en die water (wat toe al bo by die plaveisel uitborrel) het ‘n koëlronde gaatjie in die koper gespuit.
Sy drie-dubbele dubbeldoornaam trek nou al by “Sluiper-ogies-bakkies-mufkol-T-stuk-vrotmat” – minderwaardige waterkraan in die badkamerkassie gebruik en my kamer oorspoel toe ek nie tuis was nie.
Sy naam moet na gisteraand weer aangepas word, want dit neem nie in ag die geyser wat sy oorloop binne in die huis uitgespuit het totdat die warmwater by die downlighters uitgestroom het nie.
My mooi, duur huis voel nou vir my soos ‘n woedende, wagtende monster wat enige oomblik vanuit enige hoek op my kan losbars met ‘n watervloermoer.
__________________________________________
Slang in toilet kry man sleg beet
May 12 2009 09:10:23:657PM - (SA)
Taipei. – ’n Taiwanse man het ’n letterlik sittende teiken vir ’n slang geword toe dit hom aan sy geslagsdele gebyt het terwyl hy op die toilet gesit het, het die plaaslike media eergister berig.
“Die oomblik toe hy gaan sit het, het hy ’n steekpyn gevoel en instinktief gereageer deur op te staan,” het die China Times berig.
“Toe hy afkyk, sien hy die groot slang.”
Die 51-jarige man van die Nantou-streek is behandel weens geringe beserings, het ’n direkteur van die Puli- Christelike hospitaal gesê.
“Sodra die gevaar van infeksie verby is, kan hy gaan. ’n Slang se bek is nie altyd skoon nie,” het die direkteur gesê.
Plaaslike televisiebeelde het gewys hoe die swart-en-geel slang, glo ’n soort rotslang, uit die toilet gehaal word. – Reuters
Filed under: Daaglikse neuron senapse
Whahahahahaaaaaaaaaaaa hoes, proes dis hillarious!!!
Toe hy afkyk sien hy die groot slang
Hemel ek is altyd bang vir goed in die toilet, nou gaan dit net erger wees!!