Om agter tralies peanuts gevoer te word!

Ekke wonner of enige iemand besef hoe dit stink in polisie selle…en hoeveel vlooie daar is!

 

Ek waarsku jul maar net want ek wil graag met jul ‘n vervolgverhaal deel uit die pen van 007meisie, maar o weë, bewaar die siel van die wetter wat plagiaat pleeg en gedeeltes van MY BREIN SENAPSE copy en gebruik! ‘n kolletjies spook sal al jou holhare met ‘n tweezer kom uittrek hoor!

Dink ek sal maar eers paar kort essays deel…en daarna indien enige iemand sou belangstel om dit te lees, sal ek die vervolgverhaal plaas…julle sê net nie my ma daarvan nie hoor want sy sal hectic bloos vir sommige tonele! :lol:   Wel eintlik is dit een lang spannings/speur/roman maar ek deel dit in brokkies op vir die nuuskierige agies! Maar eers plaas ek ’n redenaars wen praatjie…ek was nogal heel trots op die oge wat rek in die gehoor…

 

Die kerke is vol en die tronke is leeg!

 

 

Die kerke is vol en die tronke is leeg! Ag ekskuus, dis mos anders om! Die tronke is vol en die kerke leeg! Waarom dan! Dit is defnitief nie van nuuskierigheid nie! Die 30 jaar tussen 1910 en 1940 was die tydperk waarin ¾ van Suidelike Afrika se kerke en gemeentes gestig is! Nie net Afrikaners nie, maar ook bruin en swart het na kerke gestroom!

 

Oor naweke was geen winkelsentrum of onderneming oop nie. Heel logies – waarom wil jy in jou winkel sit as die hele gemeenskap optrek kerk toe? Die gemeente was ‘n groot familie. Almal was deel van mekaar se lewens en die dominee was ‘n lopende koerant, want met huisbesoek vertel almal mos vir die arme dominee hul kwota van die omgewing se skinderstories! Mense het Godvresend geleef, sedig en normaal. Baie streng volgens God se wet is die kinders groot gemaak!

 

Jou motor kon jy ooplos en gou by ‘n kafee in hardloop, en as jy uitkom het iemand hom dalk vir jou in die koelte getrek! Tronke was vol politieke gevangenes en perskediewe. Jy sou nie eens daaraan dink om ‘n hoender te slag nie; te bang vir die doodstraf. Die broederbond het altyd gesorg dat die armes, wit, bruin en swart kos en klere het!

 

Vandag! O ek sidder as ek dink aan vandag. Vandag, 60 jaar later, kan ‘n ‘gear lock’, ‘n ‘gorilla lock’ en ‘n Netstar opspoorder nie ‘n misdadiger of kaper keer nie. Die tronke is vol moordenaars en verkragters. Die tronke is vol verhoorafwagtendes en mans wat onregverdige rugbyskeidsregters aanrand. Moet ek myself bekommer oor die feit dat die misdadigers wat my gesin wil beroof of vermoor meer regte as ek het?

 

Met geen skaamte vloek kinders die onderwysers en skiet mense mekaar dood. Ek weet dit want ek word groot saam met hulle, die ‘gangs’ en dwelms is oral om my en word op ‘n skinkbord voor elkeen van ons tieners aangebied. As jy Sondag by die drankwinkel wil instap, of jou inkopies by ‘ma pick en pa pay’ wil gaan doen keer niemand jou nie. Niemand keer jou om by die pornografiese winkel in te stap of om Saterdag- en Sondagaande die fieslikste flieks op e-tv te kyk nie.

 

 Het niemand dan meer die behoefte om kerk toe te gaan nie? Het niemand dan meer die behoefte om hul kinders van Jesus se wonderdade op aarde te vertel nie? Het niemand meer die behoefte om hul kinders te leer tussen reg en verkeerd nie? Die skole het nie die behoefte om jou kind morele waardes te leer nie, jy en jou kerk moet jou kind leer dat saam slaap en kinders kry voor die huwelik nie die verloop van die lewe is nie!

 

Waar is die jare dat ek nooit kon verstaan waarom winkels dan op ‘n Sondag toe is nie? Waar is die jare dat ek met my vriende kon gesels oor dit wat ek in my boerematriek geleer het. Die mense pas die lewe vandag by hul sondes aan en regverdig hul onsedelikhede en sondes deur te sê: “almal doen dit!” Ja almal doen dit want hulle gaan nie meer kerk toe nie. En die duikboot Christene wat net op Sondae opkom vir lug, sleep die kerk en God se naam deur die modder.

 

Dames en here, ek is geleer dat die mens by die natuur moet aanpas, NIE die natuur by die mens NIE! Maar waarom kla ons oor die regering, die misdaad, die belasting en die donkerte om ons? Waarom sê ons dit is hopeloos om te gaan stem. Hoe moet die DA, die Vryheidsfront of Patricia de Lil iets aan die toestand in ons land doen as jy op stemdag laat slaap en die hele dag voor die televisie lê? Jy is tevrede met die huidige regering as jy nie gaan stem nie!

 

 

Waarom sê jy dat jy nie tyd het om kerk toe te gaan nie of dat jy op ‘n Sondag moet werk? Genadetjie tog, my oorle ouma sou in haar graf omdraai as sy moes hoor my pa werk op ‘n Sondag. Mense, Sondag is rusdag! Dis kerk dag. Dominee NP Heystek het eenmaal gesê: “Waarom moet God vir jou tydmaak en na jou versoeke luister as jy nie vir Hom wil tydmaak en na Sy versoeke luister nie?”

 

Wat ‘n puik voorbeeld stel die volwassenes van vandag tog nie vir ons jongmense nie! Pa wat geen respek vir sy baas het nie en hom so sleg sê en vloek van alle kante leer my om ook geen respek te hê vir die gesag wat oor my aangestel is nie! Pa wat ‘n regte rasis is en nie ‘n swart persoon voor sy oë kan verdra nie, leer my om ook ‘n rasis te wees. My ouer broer wat met ‘n humeur rondloop en net wil appels swaai waar daar nie eers ‘n mark is nie leer my om ook op sy manier konflik op te los!

 

Die volwassene van vandag stel nuwe lewensreëls op sodat dit by hul siek lewens kan inpas! Organisasies en nuwerwetse kerke skiet soos paddastoele op, sodat jy kan kies watter kerk pas die beste by jou siek en sondige leefstyl. Jy verdwyn uit jou kerk wat na jou mening te ouderwets en streng is. Nou kan jy mos laat slaap op ‘n Sondagoggend!

 

 Jy sluit by ‘n kerk aan wat sê jy mag maar saam met jou meisie of ou bly, want julle wil eers kyk of die verhouding gaan werk! Genade tog, gay mense mag dan nou al die preekstoel bestyg. Lees julle dan nie die Bybel nie? Verstaan julle nie? Sommige kerke noem dit improviseer. Jy verdwyn uit die kerk want daar is nie genoeg vloekwoorde in die Psalms & Gesange boekie nie! Jy wil eerder oor ‘n naweek in Sun City, Ceasars Palace, Monte Casino of Marula Sun sit. Daar gaan jy en die dominee mekaar mos nie sien of raakloop nie, maar partykeer wonder ek ook maar self oor daai een. Waar is die dae tog dat mense nog respek gehad het vir God en dat hul skaam gekry het vir hul sondes?

 

As ons volk tog net weer wil kerk toe gaan sodat die kinders kan leer van Satan en die strepiespakke wat hy dra. As ons volk net weer wil kerk toe gaan om te bid. Te bid vir hierdie mooi land wat ten gronde gaan onder misdaad en korrupsie. Te bid vir TV programme en liedjies waar jy net ‘JESUS’ en ‘MY GOD’ en ‘FUCK YOU’ voor en agter hoor. Jongmense weet nie eers meer wat is vloekwoorde nie want dit word dan nou in die woordeboeke opgeneem en as algemene taal geklasifiseer!

 

As ons volk net weer wil kerk toe gaan om van God se wonders te hoor en om dankie te sê vir daai lekker warm bed, daai mooi huis, daai winsgewende onderneming, daai Afrikaanse skool, daai vol koskaste en daai mooi kar. Dan, dames en here, sal die kerke weer vol loop en die tronke leeg. Want, dan staan al die mooi duur karre mos voor die kerk om gesteel te word!

 

Bravo 2 oor en uit!

007 sien jul more vir ‘n vloed met liefde!

2 Responses

  1. 007

    Het jy al gesien hoe ek kan vloek as ek die dag lus het?

    Kom ek vertel jou iets anders. Ek gaan elke Sondag kerk toe en ek gaan nooit op ‘n Sondag inkopies doen of fliek nie. Ek voel te ongemaklik daarmee.

    Ek sal dit erken. Ek is skynheilig.

    Soos die meerderheid van die mense wat Sondag na Sondag in die kerke sit. Daar is ook mense wat hulle voete nie in die kerk sit nie, omdat hulle mense soos ek wil vermy. Tog is hulle beter Christenne.

  2. Hooi ek skiep ook soms die rooi telefoontjie hemel toe hoor! Veral as daar taxi’s in die nabye omgewing is! EN ek sit ook nie elke SOndag in die kerk nie… ;-)

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.